Katolikos

'n Katolikos (meervoud: katolikosse, katolikoi)[1] is die hoof van sekere Christelike kerke in sommige Oosterse Christelike tradisies. Die titel dui op outokefalie en in sommige gevalle is dit die titel van die hoof van outonome kerke. Die woord kom van die Griekse καθολικός, wat ontstaan het uit καθ' ὅλου (kat'olou, "algemeen") van κατά (kata, "neer") en ὅλος (holos, "geheel"). Dit beteken "wat betref die geheel, universele"; dit het aanvanklike gedui op 'n finansiële of burgerlike amp in die Romeinse Ryk.[2]

Die Kerk van die Ooste en sommige Oriëntaal-Ortodokse en Oosters-Katolieke kerke gebruik histories dié titel,[3] soos die Armeens-Apostoliese Kerk en die Georgies-Ortodokse Kerk. In die Kerk van die Ooste is die titel gegee aan die hoof van die Kerk, die patriarg van die Kerk van die Ooste; dit word steeds in twee opvolgerkerke gebruik: die Assiriese Kerk van die Ooste en Antieke Kerk van die Ooste. Hulle hoofde is bekend as katolikos-patriarge.

In die Armeense Kerk is daar twee katolikosse: die opperste katolikos van Ejmiadzin en die katolikos van Silisië. Die titel "katolikos-patriarg" word ook deur die primaat van die Armeens-Katolieke Kerk gebruik.[4] In Indië gebruik die hoof van 'n outokefale Oriëntaal-Ortodokse Kerk en die streekshoof van die Jakobitiese Siries-Ortodokse Kerk ('n outonome kerk binne die Siries-Ortodokse Kerk) die titel: die katolikos van die Ooste en Malankara-metropolitaan, en die katolikos van Indië.

  1. "Katolikos" in die WAT. Aanlyn by viva-afrikaans.org (intekening nodig). Besoek op 28 Junie 2024.
  2. Wigram, p. 91.
  3. The Motu Proprio Cleri Sanctitati Canon 335
  4. "Catholicos | Greek religious title".

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search